'n Inligtingsentrum om pornografieverslawing te help oorkom

Neem ‘n besluit

man-punch-wall‘n Mens het net ongeveerd 80 jaar om te leef. Die derde hiervan is klaar weg want ons slaap omtrent ‘n derde van ons leeftyd. Baie tyd word ook aan ander aktiwiteite, soos maaltye, gespandeer en dus bly daar nie eintlik baie oor vir onsself en dit wat ons eintlik wil doen.

Tyd is ons belangrikste bate. Hoe meer ons oor iets omgee, hoe meer tyd besluit ons om daarin te belê. Tyd loop verby en dat as dit weg is, is dit weg – niemand kan dit vir jou skenk nie en niks kan dit vir jou koop nie. Psalm 49 sê ook dat al hoe ryk mense is, sal hul skatte hulle nie van die dood kan red nie. En soos die jare ‘n realiteit begin word, begin mens ook met ‘n ander oog na jou lewe en dit waarop jy dit spandeer, kyk.

Daar is wel ook baie aktiwiteite en dinge om te doen wat nie deel van ons prioriteite is nie. Sekere mense hou van visvang – maar ander spandeer absoluut geen tyd daaraan want dit is nie vir hulle belangrik nie. So word ons lewe verdeel tussen dinge wat vir ons saak maak en ander dinge wat ons geen van ons aandag en tyd aan gee nie.

‘n Verslawing neem beslis baie van jou tyd. Dit het ook baie tyd geneem om daar te kom waar jy nou is – vasgevange en magteloos. Rome is nie in een dag gebou nie – en so is die Babylon van jou gedrag ook nie. Die vraag wat elke verslaafde, wanneer hulle ‘n nugter oomblik beleef, in die oë staar is: “Wil ek dit regtig los?”

Erken die waarheid – alle verslawings is lekker. En die seksuele verskawing is net so lekker want seks is lekker! Ons is geskep sodat dit lekker is en lekker voel. Seks is ook ‘n meganisme om op ‘n baie diep intieme vlak met ‘n persoon te bind, en dit is ook aangenaam.

So wat wil jy eintlik hê? Wil jy hier bly waar jy nou is en stadig maar seker doodgaan, terwyl jou lewe uitmekaar uitval? Dit is die makliker opsie, ja – maar daar kom ‘n prys. Die “highs”, die plesiere, die geleenthede om te ontsnap en na jou perfekte wêreld te ontvlug – dit is die prys.

Haat jy jou sonde? Is jy kwaad oor jou verslawing? Of dink jy net dit is iets wat vir jou ongemaklik is en as jy dit net beheer en bestuur, sal dit beter gaan? Waar staan jy daarmee?

Seksuele verslawing is soos brandende kole. Mens kan nie verwag dat jy hulle met jou hande vat, met hulle speel en hulle in jou sak sit sonder dat dit jou brand. Na ‘n rukkie sal dit begin warm word, dan sal daar rook en vuur onstaan en dit sal jou klere, besittings en selfs jou liggaam beskadig.

So speel ons met ons pornografieverslawings. Ons hoop dit sal tog uitwerk, dit sal tog nie so erg wees nie, dat ons ‘n middelweg sal kry om vir ons vlees en dalk vir God, en vir ons huweliksmaat gelukkig te maak. Intussen loop die lewenstyd verby – tik tok tik tok… En keer op keer maak hierdie kompromie niks beter nie.

Die uitdaging vir elkeen van ons is om te besef of ons ons verslawing regtig waarlik haat. En ook hoeveel is ons bereid om daarvoor op te gee – want bietjie hier en bietjie daar werk nie. Indien dit sou gewerk het, sou niemand verslaafd wees nie. Staan op vir jouself, vir jou geliefdes en vir jou toekoms en neem ‘n besluit!