'n Inligtingsentrum om pornografieverslawing te help oorkom

Is jou man verslaaf?

man,  verslaaf, vrou, skerm

Pornografieverslawing is ʼn baie subtiel verskynsel wat dalk nie dadelik in die lig gebring word nie. Partykeer vind ʼn vrou uit dat haar man daarmee sukkel eers ʼn paar jaar na die troue, en soms selfs nadat hulle kinders het.

Daar is egter ʼn paar tekens waarvoor vrouens kan uitkyk om te bevestig of hul mans aan pornografie verslaaf is.

  • Jou man is nie lus vir seks en seksuele intimiteit. Hy begin dit meer en meer vermy, sê hy is nie lus nie of dat hy te moeg is.
  • Sy slaapkamervoorkeer verander na buitegewone behoeftes, waarmee jy nie gemaklik voel nie en hy word kwaad en blameer jou indien jy dit begin bevraagteken.
  • Hy is gereeld besig op sy rekenaar/foon/tablet en is baie geheimsinnig daaroor. Sy rekenaarwerk kan partykeer tot baie laat in die nag verloop en hy raak nie meer saam met jou aan die slaap nie.
  • Indien jy jou kommer met hom deel en vrae vra, maak hy oppervlakkige verskonings of blameer jou dat jy hom probeer beheer en hom nie vertrou nie. Sy internet geskiedenis word gereeld skoongemaak.
  • Jou man spandeer al hoe minder tyd met jou en die kinders, met die verskoning dat hy of baie werk het, of te moeg is. Hy sukkel om oor nie-seksuele onderwerpe te praat nie en om met jou emosioneel te verbind.

Indien jy voel dat van die bogenoemde van toepassing op julle verhouding is, moet nie dadelik op jou man spring en vir hom vra of hy aan pornografie verslaaf is nie. Hierdie verslawing is met baie skande toegedraai en die kanse is goed dat jou man al baie keer dit probeer los het, maar het dit nie reggekry nie en voel reeds minderwaardig en swak as gevolg daarvan. Jy kan indirek met hom hieroor begin praat deur om dalk een of twee van die artikels oor pornografie verslawings vir hom te epos en om sy opinie daaroor te vra.

Benader hom met liefde en bereidwilligheid om te verstaan. Ter selfde tyd moet jy besef dat sy reaksies en dinge wat hy doen nie altyd rasioneel sal wees of sin gaan maak nie. Pornografie het kenmerkende veranderinge diep in sy onbewustelik ingebring en dit gaan baie meer as een gebed of een terapiesessie neem om vir hom te help om los te kom. Ook moet ʼn mens onthou dat daardie talle en talle beelde en video’s wat hy al gesien het, het sy persepsie van vrouens heel te maal verander na iets wat totaal onrealisties is – so jy moet niks van sy seksuele voorkeure persoonlik neem nie.

Ons sê nie dat jy net alles moet vergewe en jouself gedra asof jou man skielik ʼn engel word nie en al sy beloftes 100% sal begin nakom. Nee, die pad van herstel vir enigiemand wat verslaaf is is vol gesukkel en sweet, toewyding en opoffering. Jy en hy sal al twee moet hiermee veg, want dit is nie net jou of sy probleem nie – dit is julle probleem. Ook moet julle so gou as moontlik ander mense inkry, verkieslik mans wat hy kan vertrou om hieroor te praat – sonder ander mense is dit onmoontlik om die siklus te breek. Indien dit moontlik sou wees om pornografie verslawing alleen te oorwin, sou jou man, asook miljoene ander mans, dit lank al reggekry het.

Wees streng met jou verwagtinge en waardes, maar ook sensitief teenoor sy stryd. Onthou dat jy vir die man ʼn ruk gelede JA gesê het – en dit is jou geloof in sy beste kant en in sy oorwinningsvermoë wat vir hom ʼn groot hulp sal wees.