'n Inligtingsentrum om pornografieverslawing te help oorkom

Eensaamheid

eensaam, eensaamheid, alleen, stressorDaar is ‘n verskil tussen om eensaam te wees en om alleen te wees. Om soms alleen te wil wees is normaal – sekere mense het ‘n breek van sosiale aktiwiteite baie nodig om hul energievlakke te herstel en om in stilte hul belewenisse te verwerk.

Niemand hou daarvan om eensaam te wees nie. Niemand gaan deur die dag en kry skielik ‘n gedagte wat sê: “Ek wil nou eensaam wees” nie. Nee, eensaamheid is ‘n negatiewe ondervinding wat maklik as ‘n stressor gesien kan word.

Ons is geskep met ‘n behoefte om sosiale interaksies te hê. Indien iemand ervaar dat hulle eensaam is, beteken dit dat hulle tekort aan sulke interaksies beleef. Die oorsake van so ‘n persepsie kan verskillend wees. Party mense sal onder sekere omstandighede baie eensaam voel, terwyl ander in dieselfde omstandighede niks negatief ervaar nie.

Jou verlede en jou belewenisse het ‘n baie sterk invloed op hoe jy jouself as ‘n mens beleef. Die belewenisse beïnvloed jou persepsie van wanneer jy eensaam voel. Eenvoudig gestel, daar is sekere goed wat gebeur of kan gebeur wat jou gereeld in die gat van depressie en eensamheid gooi. Dan voel jy dat  jy geïsoleerd is en dat daar min hoop vir jou is.

Die toestand van eensaamheid is ‘n baie vrugbare grond vir seksuele verslawings. In ons droomwêrelde is alles perfek en ideaal, net soos dit ons pas. Dus word dit makliker om die realiteit te ontvlug en om met ‘n verslawing te begin speel as om die ware lewe rondom jou in die oë te kyk en dit uit te sorteer.

Om iets uit te sorteer beteken altyd dat alle pyn en seer van die verlede na vore gebring moet word, deurgekyk moet word en skoongemaak moet word. Die proses is amper soos ‘n vrot wond wat ‘n chirurg gesond moet maak. Dit is nie ‘n aangename proses nie. Almal weet dat wonde wat nie betyds behandel word nie, slegter en vrotter word.

Kyk na jou lewe en soek in jou eie hart. Kom pornografie by jou gedagtes klop wanneer jy eensaam voel? Wanneer  alles te veel raak en jy soos ‘n mislukking voel? Wanneer jy niks regkry nie en ‘n bietjie wil ontsnap sodat jy net nie die swaar las hoef te dra nie? Wat is jou argumente vir wanneer jy eensaam voel en die versoekings kom?

Onthou – om eensaam te voel is net jou persepsie van realiteit. En soos enige persepsie, kan dit verander en aangepas word. Die mens se brein is ‘n wonderlike ding en met genoeg werk aan jou denkwyses en lewensgewoontes kan enige negatiewe patroon gebreek word. Dit vat tyd, ja – maar alles wat goed en die moeite werd is, neem tyd.

So kom uit jou boksie uit en wees dapper. Praat met mense oor hoe jy eensaam voel, en ook oor hoe dit jou seksuele verslawing aanhelp. Hou op om in ‘n slagoffer-mentaliteit te lewe. Jy kan verander – en jy sal! Daar is baie wat die pad voor jou gestap het, en jy sal dit ook kan doen! Jy moet net besluit!