'n Inligtingsentrum om pornografieverslawing te help oorkom

Stryd

Ek het as student lank met pornografie gesukkel. Op ‘n stadium het ek dit bely en in die lig gebring, maar, soos meeste verslawings, het dit nie net verdwyn nie. Dit het, soos wat ons dit gereeld noem, ‘n ‘battle’ geword. Ek onthou hoe ek gedink het dat as ek trou die dag dit iets van die verlede sou wees, maar die harde realiteit was dat die ‘battle’ nie verdwyn sodra jy ‘n ring aan jou vinger het nie.

Dit bly steeds daar. Die Satan weet mos nou watter knoppies om te druk. Hoekom gaan hy nou ewe skielik ophou? Ja, ek glo dat die Here dit totaal kon wegvat as Hy wou, maar in my geval het Hy dit nie gedoen nie. Ek moes (en moet steeds) leer om die wapenrusting elke dag aan te trek en in die Gees oorlog te voer teen hierdie aanslae op my lewe.

Ek het die fout gemaak om nooit voor ons troue my vrou te vertel van my ‘struggle’ met pornografie nie en het dit eers na ons troue gedoen. Wat ek besef het, is dat die krag van die eenheid, wat die huwelik is, eers tot sy reg kom as ons 100% eerlik teenoor mekaar kan wees.

Ja, dit was vir haar ‘n skok, maar die wonderlike mens wat sy is, het sy my begin ondersteun hierin en vir my begin bid. Sy sê deesdae gereeld vir my dat sy in die nag wakker word en net weet dat sy onmiddellik vir my moet bid.

So, wat sê ek? Die ‘battle’ gaan nie weg sodra jy getroud is nie. Dit raak wel makliker (veral as jy oop kaarte met jou vrou speel en haar toelaat om jou te ondersteun), maar jy moet steeds kies om rein te wees en daarvoor baklei.

So, as jy nog nie het nie, maak nóú erns daarmee, vra die Here om jou te leer om die stryd vir jou hart onder beheer te kry nog voordat jy trou.