'n Inligtingsentrum om pornografieverslawing te help oorkom

Pornografie breek

Dit is ‘n moeilike saak om oor eerlik te wees. Mens sit saam jou vriende en maak grappe daaroor, want almal doen dit, so wie gee regtig om?

Op universiteit was dit asof dit my minder gepla het. Jy was jonk en wou eksperimenteer en het nie gesien hoe dit enige iemand anders beïnvloed nie. So, dit kon seker nie te verkeerd gewees het nie? Maar ek besef nou dit verander ‘n mens se siening oor vrouens en sodra jou siening van vrouens verander, verander die manier waarop jy vrouens hanteer. Dit is hier waar dit ander begin seermaak.

Dan ontmoet jy jou trouvrou en wil nie ‘n ander meisie ooit weer in jou lewe sien nie, want jy het “die een” ontmoet. Julle besluit om te wag en seks te los vir die huwelik. Maar ou patrone is gevestig en kort voor lank is jy terug by die internet en als wat daarmee gepaard gaan, al het jy soveel beloftes in jou hart gemaak. En as jy dan jou geliefde sien, voel jy soos die slegste mens op aarde.

Die harde les wat ek geleer het in die huwelik: pornografie breek jou vrou heeltemal. Ek het gedink dit is iets wat ek alleen doen agter geslote deure en dit raak niemand nie, maar die realiteit was dat dit direk die verhouding met my vrou beïnvloed het.

Die eerste paar maande van getroude lewe was absoluut wonderlik wat die seksuele betref. Maar oor tyd het ek haar begin afskeep en nie meer soveel moeite gedoen soos aan die begin nie. Die lewe het besig geraak. En die ou patrone van pornografie het ‘n onrealistiese drang na seks geskep in my lewe, wat ewe skielik nou getem moes word. So, kort voor lank was pornografie weer ‘n manier van ontlading, maar dit het daartoe gelei dat ek nie my vrou in die oë kon kyk nie.

Ek het deur die laaste paar jaar geleer dat kommunikasie die beste en enigste manier is om die goed uit te sorteer. Ek het dit aan my vrou verduidelik en ons het ooreengekom dat ons mekaar sal help. As ek eerlik is met haar wanneer ek dit regtig nodig het, sal sy tyd maak vir my. Die beste tye in ons verhouding was as ons kommunikasie die beste was. Die laaste paar maande was asemrowend, want ons kommunikasie is gesond.

Om af te sluit: dit was eers toe ek pa geword het van ‘n dogter dat ek regtig verstaan het hoe ‘n mens ‘n vrou moet hanteer. Jy wil haar beskerm en sal enige iets doen om haar veilig te hou. Hanteer jou droomvrou so en jy sal altyd gelukkig wees in jou verhouding.