Meer oor ons

vryheid, pornografieVandag is seksueel-stimulerende materiaal orals maklik beskikbaar: op TV, DSTV, rekenaars en selfone.  Media- en advertensiemaatskappye gebruik oorweldigende hoeveelhede van sagte pornografie om mense se emosionele geheue te stimuleer om groter klandisie te bereik.  En natuurlik is daar advertensie kringe wat uitsluitlik op seksuele stimulering en bevrediging as hul produk fokus – soos pornografiese webtuistes, “sex chats” ook bekend as “sexting” en aanlyn klubs vir volwassenes.

Maar wat is egter die effek van sulke stortvloed van seksuele materiaal op ʼn gewone families en individue se hedendaagse lewe?  Wat gebeur met ʼn brein en ʼn hart van iemand wat graag die materiaal wil ophou gebruik, maar keer op keer misluk?  Wat kan sulke mense doen om mekaar te ondersteun , en watter stories het hulle om vir die res van ons samelewing te vertel?

Hierdie web-bron is ʼn versameling van inligting wat deur navorsing en stories van mense bevestig en herhaal word.  Ons inligting handel oor verslawing aan pornografie en seksueel-stimulerende materiaal.  Die skandevolste verslawing wat die hedendaagse mens beïnvloed.

Ons missie is om die waarheid te praat en die lig te skyn op die globale probleem van seksuele verslawings. Ons span is wedergebore Christene en ons plaas groot klem op Bybelse beginsels en leer van Jesus Christus wanneer ons die onderwerp van seksuele verslawings en pornografie behandel.

Nogtans is die webwerf oop vir enige persoon om te gebruik, maak nie saak wat hul geloofsvoorkeur is nie. Enigiemand is welkom om hul storie te deel, om hulp te vra of om ondersteuning en raad aan te bied.

Die visie vir hierdie projek is om ʼn inligtingsbron aanlyn te skep wat spesifiek die Afrikaans-sprekende gemeenskap teiken. Bloedmin relevante en betroubare inligting is tans oor die onderwerp van pornografie beskikbaar en hierdie projek poog om die gaping te oorbrug.

Die tweede inisiatief van die webwerf is om ʼn gemeentesentrum te stig en te onderhou, waarin individue met dieselfde belangstellings en probleme met mekaar in hul taal van voorkeur kan kommunikeer waar hul mekaar ondersteun met relevante inligting. Dit sluit in die wat hulself as pornografie-verslaafdes identifiseer, asook hul vriende en familielede.

Die kern van hierdie projek is om die gemeenskap te bou en ondersteun. Dankie aan almal wat hul ondervindings en insig op hierdie webwerf deel. Neem asseblief kennis dat enigiets wat gedeel word, mag in artikels en ander aanlyn-materiale ingesluit word, maar wel sonder enige persoonlike of ander inligting wat die outeur sou help identifiseer.

Die materiaal op hierdie webwerf is nie ʼn professionele advies nie en word slegs vir navorsings- en opvoedingsdoeleindes verskaf. Indien U ʼn behoefte het om die materiaal vir kommersiële doeleindes te gebruik, benodig U die toestemming van die kopiereghouer.