'n Inligtingsentrum om pornografieverslawing te help oorkom

Ek klim uit die kas

Dit is die eerste keer wat ek op ʼn sosiale platform my storie deel. Ek is senuagtig, maar nie bevrees nie. Ek is ʼn meisie en het gebruik gemaak van pornografie om my seksuele begeertes te bevredig. So vandag klim ek uit die kas; om die storie met jou te deel. Die kas waaruit ek klim, is nie ʼn kas van homoseksuele gevoelens of leefstyl nie, maar eerder die kas waarin ons meisies gekategoriseer word. Die kas van die kultuur wat sê ons sukkel nie met verkeerde seksuele begeertes nie.

Ek was 14 en hy 23. Soos met alle fisiese verhoudings het een ding na die volgende gelei, meeste van die tyd wou ek net skree en huil en weghardloop, maar dalk het ek diep binne my geglo ek verdien wat met my gebeur. Dit het gevoel of hy my verkrag. Dan die vreesvolste gedagte, ek is nou klaar so vuil geen ander man sal ooit met my wil trou nie. Vir vyf jaar was ek vasgevang in ʼn bose kringloop, wat gelyk het of dit geen einde het nie.

Jesus het my op Vrouedag 2006 kom uitruk uit my omstandighede, ek was nie meer ʼn slagoffer nie. Ek het oorwin.

Ten spyte van die oorwinning oor die verhouding het die seksuele begeertes terug gekom en by my gespook. Ek het nog vuiler gevoel. Ek het toe ʼn kleurskerm foon gehad, dit was nog baie nuut en nie almal het een gehad nie. My vingers het google gevind en ook ander plekke. Gou het ek begin foto’s kyk van kaal mense. Aanvanklik het dit nie gereeld gebeur nie.

Ek was vasgevang in my gedagtes, ek kon dit met niemand deel nie. Ek was ʼn eerste jaar (twee jaar ouer as die groep). Ek was nog altyd, skaam, stil, teruggetrokke en kon my hart, my gedagtes met niemand deel nie.

meisieEk het DC ontdek. Die video’s wat daarop gestoor is kon ek alleen  in my koshuiskamer kyk. Vir vier jaar lank. Niemand het geweet daarvan nie. Ek het altyd my geskiedenis skoongemaak en dadelik video’s of prente wat afgelaai is weer uitgevee.

Aanvanklik het ek heteroseksuele video’s gekyk. Ek het so skuldig gevoel, ek wou nie ʼn man kaal sien nie. Ek wou net my begeertes bevredig en dan aangaan met die lewe. Ek het begin na meisies kyk. Ek het nie dieselfde geslag aantrekkings nie. My gedagtes was: “Hulle het mos alles wat ek het?”, “Hoe verkeerd kan dit dan nou wees?”. Ek het steeds skuldig gevoel en die skuldgevoel het my van binne af opgeëet. Ek het in twee wêrelde geleef, die een waarvan net ek weet en die ander een waar almal dink ek is so ʼn oulike mens en het selfs na my toe gekom vir raad.

Tyd het verby gegaan. Die bose kringloop het sterker geword. Skuld gevoelens, huil voor God, belowe om dit nooit weer te doen nie, kry vrede, is verveeld, soek iets onskuldig op die internet, sien iets raak, soek meer en eindig op met seksuele begeertes, bevredig dit, voel skuldig en daar begin alles van vooraf. Ek het mensehandel ontdek in 2013 en waardeur mense in pornografiese video’s en foto’s gaan. Dit het die skuldgevoel vererger.

Ek het besluit dat dit is genoeg. Ek het opgestaan en besluit om nie meer ʼn slagoffer van my gedagtes en begeertes te wees nie. Ek het gepleit by die kruis. Ek het my sondes bely.

Eers in 2014 het ek ʼn sielkundige en geestelike beraders gesien oor my verlede. Ek het genesing ontvang van my verlede. Die seksuele begeertes het gebly. Dit is my keuse wat ek daarmee gaan maak en elke dag kies ek van vooraf om nie ʼn slagoffer daarvan te wees nie. Ek misluk nog, maar meer gereeld staan ek op en kyk myself in die oë en sê: “Ek is lief vir jou en gaan vandag dit vir jou wys.” Soms glo ek dit, maar ek het hoop dat ek dit eendag ten volle gaan glo.

Dalk stap jy deur dieselfde of ʼn soortgelyke of ʼn heeltemal ander pad. Ek wil vandag vir jou sê, daar is hoop. Vat my hand, kom ons staan op uit die stof en rig ons oë op Jesus. Kom ons wees Heilig, want Hy is Heilig. Jy kan vir my skryf van jou pad en ek sal saam met jou bid. Jy is ʼn prinses, jy is God se prinses. Kom saam met my.