'n Inligtingsentrum om pornografieverslawing te help oorkom

Die vraag

Ek was tot letterlik 3 weke gelede absoluut verslaaf aan pornografie. Ek het al soveel keer hieroor gesels en soveel keer myself belowe dat dit die laaste sal wees…net om soms sommer minute daarna myself oor te gee daaraan!

Die vraag wat bly maal het in my kop, was: “wil ek regtig ophou met pornografie?”

Wel, eerlik, ek wou nie. Ek het dit begin geniet en dit was asof ek nie behoorlik kon funksioneer sonder dit nie. Dit was op ‘n stadium so erg dat ek gevoel het dat my dag nie werklik begin het totdat ek pornografie gekyk het nie. Dit sou dan volg tot pornografie 3 keer deur die loop van die dag. Let wel, hierdie boodskap kom nou van ‘n getroude man wat vrylik seks beskikbaar het by die huis, en wat dit al bely het aan sy vrou en gesien het hoe dit haar breek!

Ek het toe die besluit gemaak om werklik op te hou en al hoe ek dit kon doen (dis wat ék moes doen), was om letterlik op elke liewe ding wat toegang verleen tot internet, ‘n blok te plaas. Ek moes my en my vrou se selfone, laptops, alles blok. Hoe graag ek ook al nou wil pornografie kyk, dit is gelukkig nie meer vir my moontlik nie. En dit maak dan die versoeking bitter vinnig verdwyn.

Die pornografie het my verhouding begin opvreet soos ‘n brullende leeu wat nooit versadig raak nie! Ek het my ma en pa se stukkende verhouding voor my sien afspeel (hulle het geskei weens my pa se verslawing aan pornografie). Ek weet dit klink siek, maar pornografie was so sterk gevestig in my eie lewe dat ek dit sien gebeur het en dit steeds gekies het.

Ek’s oor dit! En ek sê nie dat ek dit op my eie reggekry het of gaan regkry nie. Ek eer God steeds vir die feit dat Hy my op n punt kon kry dat ek werklik wou ophou, al was dit geforseer in ‘n mate. Ek’s dankbaar daarvoor. Die skuldgevoelens van pornografieverslawing het my daagliks oordonder.

Ek is die laaste persoon om te preek of om raad te gee. Ek kan net my storie deel. Ek glo vas dat ons hierdie ding kan baasraak. Jy weet presies wat om te doen, jy ken jouself! Die vraag bly staan: wil jy ophou?

Met dit gesê bly dit steeds ‘n daaglikse/uurlikse ‘battle’ met sosiale media (Twitter, Facebook, Instagram) wat pornografie baie subtiel aanwakker. Die ‘battle’ gaan nooit ophou nie. Veral nie met ouens wat regtig probeer nie. Ek het al die beeld gesien waar die duiwel van ‘n entjie af staan en na my en my vrou se verhouding kyk. Satan haat wat hy sien. En hy sal alles in sy vermoë doen om dit te verwoes!